Nasionale Vonkfiksiedag

Die bekende Afrikaanse skrywersplatvorm SA vryskutskrywer het ook vandag deelgeneem aan die eerste Nasionale Vonkfiksiedag wat deur skrywersverenigings in veral die Verenigde Koninkryk gereël is. Hierdie gebeurtenis het vandag, 16 Mei, plaasgevind.

Hulle het ook ‘n uitdaging aan al hulle Facebook intekenaars gestel om ‘n vonkverhaaltjie van honderd woorde of minder te skryf wat die bestuuderes, Leony Benghiat, dan op die organisasie se Facebook aanhangersblad geplaas het.

Daar het verskeie interessante kortverhaaltjies so ver op die blad verskyn. ek het self ook die uitdaging aanvaar. Hier is my nederige poging.

Coup De Gras
Deur: Johan Pieterse
Dit was veron derstel om ‘n vrolike dag te wees toe die kinders en onderwysers van Blomberg Hoërskool op hul laaste eksamendag skool toe kom. Nog net enkele klasse skryf nog en meeste onnies doen al die laaste nasienwerk of stel al hulle puntekaarte op vir die puntebespreking.
Die opgewondenheid word egter gedemp toe almal die voertuie van die departementele amptenare in die skool se parkeerterrein sien. Die hoof staan met ‘n groepie amptenare en gesels. Almal lyk somber, asof hul die draers van slegte nuus is.
die nuus tref almal soos ‘n vuishou – weens geldelike tekorte word eie skool gesluit.

My hartlike dank hiermee aan SA Vryskutskrywer wat dit vir sy lesers moontlik gemaak het om blootstelling te kry aan hierdie nuwe opwindende genre van fiksie wat perfek inpas by ons gejaagde lewenstyl van vandag.

Besoek gerus hulle webblad by: http://www.savryskutskrywer.co.za

Die verwarring van oudio captchas

Ek het al by verskeie geleenthede probeer om rekening by internetdienste en sosiale netwerke te open. As deel van jou aansoekvorm kry jy dan ook ‘n sogenaamde captcha wat jy moet invul. ‘n Captcha is ‘n grafiese verifikasiekode wat mens moet invul omte bewys dat jy wel ‘n menslike aansoeker is en nie ‘n outomatiese rekenaarprogram wat gemorspos oor die netwerk gaan versprei nie. Vir diegene van ons wat nie die prentjiekode kan sien nie, word daar heel dikwels ‘n oudio-weergawe van die captcha beskikbaar gestel.

die probleem met sommige van hierdie captchas is dat jy ‘n verskeidenheid van woorde gegee word om te luister terwyl jy slegs twee of meer daarvan moet invul. Dit behoef geen genie om te besef dat so ‘n stelsel uiters verwarrend is nie.

Waarom verskaf hierdie diensverskaffers nie eerder slegs die kodewoorde wat mens moet invul nie en los al die ander tierlantyntjies uit. Dit sal beslis die lewe makliker maak vir die betrokke internetmaatskappye en sosiale netwerke sowel as nuwe aansoekers wat graag van hul dienste wil gebruik maak maar nie oor al die tegniese vaardighede beskik nie. Verder sal dit ons as gesiggestremdes ook help om volle beheer te hê oor ons internetrekeninge en wagwoorde en nie afhanklik te wees van andere wat ons met sulke aansoeke moet help en dalk op onbehoorlike wyse toegang tot ons internetrekeninge kan kry nie.

April: maand van verwagting, verandering en oorgang

Aprilmaand was nog altyd tradisioneel ‘n maand van groot afwagting, oorgang en verwagting. Vanjaar is dit geensins anders nie.

Op die mediafront gaan RSG vanaf Maandag ‘n nuwe programskedule volg wat veral die aand se uitsendings drasties gaan verander. Diegene wat nie dadelik ‘n programskedule byderhand het nie, sal weer bietjie in die donker rondtas om weer ons voete te vind met die nuwe rooster, maar ek hoop dat dit die algemene publiek se goedkeuring sal wegdra. Gelukkig is daar darem ‘n nuwe programskedule op hulle webblad beskikbaar. Verder lyk dit wel of WordPress.com ook besig is om veranderinge te ondergaan. Elke dag merk ek iets nuuts op, hetsy dit nou by die mobiele paneel is en of dit by my beheerpaneel is. Ek is nuuskierig om te sien wat hulle alles daaroor op hulle amptelike webjoernaal sal skryf.

April is ook die begin van ‘n nuwe finansiële jaar vir besighede sowel as die staatsdiens. Die nuwe belastings sowel as die nuwe toelae wat tydens die begrotingsrede in Februarie aangekondig is, tree ook in werking. Ons brandstofpryse styg iets verskrikliks met nagenoeg 71C per liter vir petrol en nagenoeg 51C per liter vir diesel. Dit kan deels toegeskryf word aan die regering se verhoogde brandstofheffings sowel as internasionale woelinge op die oliemark. As die brandstofprys eers die hoogte inskiet, klim alle ander noodsaaklike goedere se pryse ook. Dis voorwaar geen Aprilgrap vir ons gewone salaristrekkers nie. Eskom het ook aangekondig dat hulle Elektrisiteitstariewe met 16% verhoog gaan word. Dis amper ‘n soort verligting omdat die tarief aanvanklik met nagenoeg 25% sou gestyg het.

Juis omdat die privaat sektor sowel as die staatsdiens met ‘n nuwe finansiële jaar begin, sal die vakbonde ook binnekort aan die werkgewers se deur kom klop om hoër salarisse en meer voordele vir werknemers te beding. Indien hierdie loononderhandelings vasval, sit ons weer binnekort met grootskaalse stakings en massa-aksies wat soos vernietigende vloedgolwe oor ons land rol en gewone mense wat op eerbare wyse ‘n bestaan wil maak paniekbevange laat voel as gevolg van direkte of indirekte intimidasie by die werkplek of die massas stakende betogers wat die strate invaar en soms skade aanrig en met die polisie slaags raak. AS gevolg van die feit dat ons ekonomie nog steeds sukkel en stygende brandstof- en voedselpryse kan ons vanjaar dalk weer ‘n rowwe tyd te wagte wees wat stakings en arbeidsgeskille aanbetref.

Verder lyk dit of die regering vasbeslote is om die nuwe e-tolstelsel later die maand in Gauteng in werking te stel. Soos verwag kon word, is mense uit alle vlakke van die samelewing uiters omgekrap hieroor. Motoriste wat van hierdie tolpaaie moet gebruik maak se maandelikse reiskostes word drasties opgejaag, om nie eers van die koste van produkte en dienste te praat nie. Gelukkig is busse en taxi’s van tolfooie vrygestel. ‘n Alliansie van burgerregtegroepe, vakbonde en ander belangegroepe het bymekaargekom om ‘n klasaksie-hofsaak te maak waarin hulle die regering wil dwing om af te sien van hierdie tolstelsel en eerder alternatiewe opsies te oorweeg vir die befondsing van die padnetwerk. Hierdie alliansie bestan uit vennote so uiteenlopend soos die linksgesinde Cosatu sowel as gematigd konserwatiewe groepe soos die Vryheidsfrond Plus, Solidariteit en Afriforum. Dit sal interessant wees om te sien of hierdie alliansie hierdie saak kan wen.

Op ‘n ligter noot is die eerste April ook tradisioneel bekend as gekkedag, die sogenaamde April fool’s day. Sommige antieke Europese gemeenskappe het in Maart of April die begin van ‘n nuwe jaar gevier omdat dit ook saamgeval het met die begin van die Europese lente. Toe die Gregoriaanse kalender in gebruik geneem is het sommiges nog steeds voortgegaan om die nuwe jaar in April te vier en hulle is dus Aprilgekke genoem. Dit het tot ‘n interessante tradisie gelei waar mense mekaar poetse bak op hierdie dag. Sommige mediagroepe gaan self so ver om gefabriseerde nuusberigte die wêreld in te stuur wat soms die emosies hoog laat loop. Wat ‘n verligting is dit dan nie om later te hoor dit was net ‘n Aprilgrap nie.

Hier in Suid-Afrika is April egter die oorgangsmaand vanaf somer na winter. Die herfs het teen hierdie tyd al goed nes geskop hier by ons. Hierdie naweek het ons saam met welkome reën ook die eerste koue byt van die winter ervaar. Die weerburo het juis vanjaar ‘n koue winter voorspel. As ons hierdie koue byt al einde Maart gehad het, wil ek nie weet hoe dit hierdie winter gaan wees nie.

mag elkeen van u wat hier kom inloer ‘n wonderlike Aprilmaand hê met al sy soet en suur wat vir ons voorlê.

Die Dilemma Van Sellulêre Internet

Ek sukkel al vir amper ‘n week lank met die selfoondiensverskaffer MTN se 3g netwerk. Die netwerk is pal op ‘n lae seinsterkte en sny

gereeld uit. Dan moet my rekenaar se ingeboude moden weer gaan soek na ‘n alternatiewe verbinding soos EDGe. Gelukkig lyk dit

darem of EDGE en GPRS-verbindings geensins negatief geraak word deur hierdie probleme nie.

Ek het oor die algemeen nie probleme met EDGE of GPRS op die rekenaar nie omdat ek nie een van daardie ouens is wat videos kyk

of dinge doen wat groot bandwydte verg nie. Maar my probleem kom in met die gereelde wisseling van netwerkverbindings. As die 3g

weer sterker deurkom gaan die modem onmiddelik weer terug 3g toe al is die sein laag en die alternatiewe verbindings sterk.

Ek het al dikwels gehoor hoe sommige van my vriende en andere wat sosiale netwerke via ‘n sellulêre internetverbinding gebruik kla

oor Vodacom se stadige internetspoed. Almal het dit maar toegeskryf aan die feit dat Vodacom die grootste selfoonnetwerk in

Suid-Afrika is en dat die infrastruktuur maar sukkel om by te hou by die swaar internetverkeer wat deur die gebruikers daarvan

gegenereer word. ‘n Mens kan jouself egter afvra of Vodacom wel nie al vroeër kon agterkom dat die infrastruktuur onder druk is en dat

hulle die kapasiteit van die netwerk moet uitbrei nie. Ek was maar altyd in die stilligheid dankbaar dat ek ‘n MTN gebruiker was omdat

ek geen internetprobleme ervaar het nie.
Maar skynbaar het dinge nou verander.

Ek het ook in die week verneem van sommige van Mtn se Blackberry gebruikers wat kla dat hulle probleme met hulle blackberry

internet ondervind het. MTN het in reaksie hierop gesê dat net sekere nommers geraak word.

Ek hoop van harte daar sal spoedig ‘n oplossing vir hierdie situasie gevind word. Verder moet veral sellulêre diensverskaffers ernstig

kyk hoe hulle hul sukkelende infrastruktuur kan opknap en uitbrei.

Windows 8 Is Op Pad

Die rekenaarprogrammatuurreus Microsoft het op Skrikkeldag, 29 Februrarie 2012, vir groot opgewondenheid gesorg nadat hulle ‘n toetsweergawe van Windows 8 by die Mobile World Congress in Barcelona, Spanje, bekendgestel het.
So ver is hierdie toetsweergawe, ook bekend as die “beta” weergawe van die Windows 8 bedryfstelsel al deur mense in meer as 70 lande afgelaai om getoets te word.
Hierdie bedryfstelsel kan op gewone rekenaars, skootrekenaars en tabletrekenaars werk. Dit is dus nie meer nodig vir Microsoft om verskillende bedryfstelsels vir gewone rekenaars en tabletrekenaars te skryf nie.

Microsoft beweer dat Windows 8 op ‘n gewone rekenaar slegs 8 sekondes neem om ten volle te laai as die rekenaar aangeskakel word. Indien dit wel so realiseer sal dit absoluut alle rekords breek vir die bedryfstelsel met die vinnigste aanskakelspoed. Die meeste bedryfstelsels wat tans beskikbaar is neem romdom 30 sekondes om aan te skakel en te laai.

Windows 8 doen weg met die gewone Windows kieslys en maak gebruik van ‘n ontwerp waar programme amper soos ‘n mosaiek van teëls op die rekenaarskerm vertoon word. Diegene van julle wat al mosaiek kunswerk gesien het sal weet waarvan ek praat. Die teëls op die skerm lyk amper soos padtekens. Programme kan oopgemaak word deur met jou vinger op die skerm te raak waar die toepaslike programme se teëls vertoon word mits jy ‘n rekenaar met ‘n raakskerm het. Jy kan egter ook met jou muis kliek om programme oop te maak as jy nie ‘n raakskerm wil gebruik nie.

Hierdie nuwe soort ontwerp kan dalk ernstige uitdagings stel vir maatskappye en organisasies wat skermlesers vir gesiggestremde en leesgestremde rekenaargebruikers skryf. Hierdie groepe is veral afhanklik van kieslyste wat met ‘n toetsbord genavigeer word. Microsoft sal daaraan moet dink om regtig saam te werk met hierdie organisasies om alternatiewe te vind wat dit vir hierdie organisasies en maatskappye moontlik sal maak om die nuutste skermlesers te kan skryf wat met gemak deur hierdie kwesbare groeperings gebruik kan word. Heelparty mense se werksekerheid hang daarvan af. dit het al in die verlede gebeur dat veral gesiggestremdes hul werk verloor het omdat hulle spraakprogramme nie versoenbaar was met die maatskappy se bedryfstelsel nie.

Ek is nogal nuuskierig om te lees wat die gewone mense wat bevoorreg is om hierdie bedryfstelsel te kan toets daarvan dink. Ek sal beslis die webjoernale dophou vir enige verdere nuus.